Verligting

Vanoggend strompel ek vaak-vaak by die kombuis in en steek in my spore vas. Want oor die vloer lê witterige goed gesaai.

Suiker? Wonder ek. My oudste is berug daarvoor dat hy die kombuis in een koffiemaaksessie kan afskryf.

Maar die goed lê letterlik gesaai tot by die deur…. Selfs vir Marco, sou dit onmoontlik wees om so te mors. Iets wat aan die plafon vreet? Ek sien egter geen gate nie.

Ek vee maar op en toe die ander kom aansit vir ontbyt, deel ek my bekommernis met hulle.

Marco se kop sak.

“Nee, Mamma. Dit was ek wat so gemors het met die suiker,” erken hy manmoedig.

My mond val oop.

“Hoe is dit moontlik?”

“Wel, ek het die suikerpotjie volgemaak en toe ek omdraai met die suikersak, toe draai ek so ‘n bietjie wild om en toe vlieg die suiker….”

Posted in Uncategorized | 1 Kommentaar

Misverstand

Gisteraand kom ek laterig terug van boekklubvergadering af. Lekker geeet en lekker gelag.

Toe ek instap by die huis, vind ek die twee seuns nog wakker. Hulle kyk ‘n fliek, is bly ek is veilig tuis en ja, Pappa en Lia slaap al. Marco mompel iets van “op die bank aan die slaap geraak en bed toe gedra…” maar hy is te besig om te konsentreer op die fliek en ek neem aan dis Pappa wat vir Lia bed toe gedra het en nie andersom nie.

Ek drink ‘n koppie koffie, bid gou saam met hulle en laat hulle in vrede om hulle fliek klaar te kyk. Hulle is nog nie vaak nie, beweer hulle. Ek is en ek gaan klim summier in die bed en val in ‘n diepe droomlose slaap langs my geliefde wat skynbaar lankal in droomland is.

Rondom halfeen skrik ek wakker van ligte wat steeds aan is. Manlief het ook wakkergeword, mompel iets en staan op om die twee seuns wat op die bank aan die slaap geraak het bed toe te boender en ligte af te sit en deure te sluit. Hy het homself net weer op sy plek reggewikkel, toe hy skielik penorent vlieg.

“Waar is Lia?!” vra hy paniekerig.

“Hoe bedoel jy, waar is Lia? Het jy haar dan nie in die bed gesit nie?” vra ek iewat vererg.

“Nee!”

Hy vlieg op en met die gang af om in haar bed te gaan kyk. Ja-nee, daar le sy ewe vredig en slaap… Ons raak weer aan die slaap.

Vanoggend vra ek vir Marco of hy sy sussie bed toe gedra het.

“Natuurlik, Mamma!” Ewe vererg. “Ek het dan so gese!”

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

Dis Maandagoggend en die Induna is reeds werk toe vir ‘n belangrike saak. Die res slaap nog. Die bewolkte lig laat hulle dink dis vroeer as wat dit is. Ek kou aan ‘n happie eier en drink my koffie.

Die afgelope tyd het gevind dat ek toenemend geirriteerd raak met Facebook ten spyte van my onvermoe om daarvan weg te bly. ‘n Groot klomp van my tyd word daagliks vermors op “net gou” kyk wat het sedert laas gebeur. Die wat geen slaafse navolgers van Facebook is nie, sal hulle koppe wys knik.

Facebook is verslawend en mens flous jouself as jy dink dat jy enige betekenisvolle kommunikasie met iemand het. Veral iemand met ‘n ander standpunt as joune oor ‘n saak ;-)

“Wha’s matter?” he inquired calmly. “Did we run outa gas?”

“Look!”

Half a dozen fingers pointed at the amputated wheel – he stared at it for a moment and then looked upward as though he suspected that it had dropped from the sky.

“It came off,” someone explained.

He nodded.

“At first I din’ notice we’d stopped.”

A pause. Then taking a long breath and straightening his shoulders he remarked in a determined voice:

“Wonder ‘ff tell me where there’s a gas station?”

At least a dozen men, some of them little better off than he was, explained to him that wheel and car were no longer joined by any physical bond.

“Back out,” he suggested after a moment. “Put her in reverse.”

“But the wheel’s off!”

He hesitated.

“No harm in trying”, he said.

– The Great Gatsby

Mens sien wat ander mense kies om jou te laat sien. Van hulle Facebook profiel tot (somtyds) versigtig bewoorde en gespellcheckte grepe uit hulle lewe.

(Maak die feit dat ek die versigtig bewoorde en reg gespelde variasies op die tema verkies, van my ‘n Fariseer?)

Self is ek heeltemaal te omslagtig vir die kort inskrywings wat Facebook toelaat. Ek dink in elk geval min mense lees langer inskrywings.

So, sonder om verder doekies om te draai, het ek my Faceboek rekening gedeaktiveer. Om hom uit te vee, is skynbaar onmoontlik – wat al klaar effe skrikwekkend is. As ek wil Facebook kyk moet ek eers aanmeld. En dis gewoonlik te veel werk. Ek mis van die groepe – soos die Tuisonderrig en Unschool groepe – maar daar is tog genoeg inligting op die Internet beskikbaar sonder om  afhanklik van diesulkes te wees.

Ek mag miskien minders blog – behalwe vir hierdie maand – maar as ek nou ‘n openbare spreekbuis moes kies, sou dit maar blog bly.

Viva blog!!

:-)

Posted in Uncategorized | 1 Kommentaar

Voorregte

Ek wil aansluit by my vorige inskrywing.

Toe ek gaan kyk het na statistiek om te bepaal hoeveel mense spandeer aan klere in vergelyking met ander dinge, het ek eintlik verwag dat klere koop ‘n groot persentasie van die gemiddelde Suid-Afrikaner se begroting sou uitmaak. Ek kyk mos na mense om my en sien dat dit wat hulle aantrek in baie gevalle gekoop word by die duurder klerekettingwinkels. Ek luister na vriendinne en hoor wat hulle betaal vir klere. Maar dan – ook te verwagte – is daar mense wat nie klere kan bekostig nie en ander mense se weggooigoed dra.

Die middelklas in Suid-Afrika, blyk dit, is nie regtig die middelklas nie. Omdat so baie mense in Suid-Afrika arm is, het  wat die middelklas in ander lande sou wees eintlik opgeskuif na die hoë klas – die bevoorregtes.

Die een ding wat baie mense my vra wanneer hulle hoor dat ons “Bant”, is

“Maar is dit nie baie duur nie?”

Ek dink die wanpersepsie kom van die aanname dat “Banting” ‘n hoëproteindieet is. Dit is nie. Wat dit wel is, is ‘n hoëvet, laekoolhidraatdieet met protein in ons geval -dit sou verskil van mens tot mens – wat ongeveer 70g van ons daaglikse voedselinname uitmaak. Dis dus nie noodwendig ‘n duur dieet nie, maar as jy dit vergelyk met ‘n dieet wat hoofsaaklik stysel bevat, sal dit waarskynlik duurder uitwerk.

Ek het self gevoel dat ons kosrekening aanvanklik hoër was as voorheen, maar in die laaste paar maande het dit weer laer geraak. In vergelyking met ‘n normale Westerse dieet, spandeer ons min of meer wat die gemiddelde aanbevole bedrag per persoon moet wees. Hierdie bedrag sluit in ons geval ook ander verbruikersitems in. Ek dink ons eet relatief baie vars goed en min verpakte of geprosesseerde goed wanneer ek loer na die persoon voor my en agter my in die ry by die supermark se trollies. Die versoeking was dus groot om myself op die skouer te klop: Ons spandeer relatief min aan kos (maar eet goed) en min aan klere (maar trek relatief goed aan), ons bly gerieflik, kom ons verpligtinge na en tog verdien ons gemiddeld – vir blanke Suid-Afrika.

Maar wanneer mens hierdie “aanbevole gemiddeld” vir kos gaan bymekaartel, besef jy skielik dat dit meer as is wat die meeste gesinne maandeliks verdien.

Uitklophou.

My voorregte stop nie hier nie. Ek raak warm onder die kraag wanneer mense skimp dat ek kan tuisbly by my kinders omdat ons beter af is finansieel as die gemiddelde mens. En ja, ons is beter af – as die gemiddelde mens in Suid-Afrika. Wat min beteken wanneer mens dit vergelyk met Eerstewêreldlande.  Maar vir my om te kan tuisbly, is daar opofferinge wat gemaak word. Dit beteken daar is baie goed waarvoor “nee” gesê moet word. Dit veroorsaak ‘n klomp ekstra druk en spanning. Dis opofferinge wat nie altyd eers in geld gemeet kan word nie. En ek weet van enkelouers wat steeds tuisbly en tuisonderrig doen. Hulle werk dan van die huis af. Ek vermoed dat die meeste mense wat werklik hulle kinders tuis wil onderrig, ‘n manier sal vind om dit te doen. Maar om my kinders elke dag by my te hê IS ‘n reusevoorreg. Laat ons nie doekies daarom draai nie.

Ek het ‘n naskoolse kwalifikasie. Ek het ouers wat my ‘n hupstoot gegee het met ‘n karretjie en meubels en die wete dat ek geliefd is en sal bly – al doen ek wat. Ek het ‘n man wat nie sy salaris uitdrink of mors nie, wat hard werk en ‘n goeie man en pa is. My kinders sukkel nie. Hulle is lewendig en nuuskierig en oor die algemeen gesond.

Gister sit ek deur die venster en kyk hoe Magnus op sy “scooter” ry. Een oomblik ry hy nog en die volgende skei sy en die “scooter” se paaie. Hy vlieg soos ‘n vrot vel deur die lug, tol ‘n paar keer en sloeg neer op die plaveisel. Terwyl ek begin hol na die naaste deur toe, registreer ek dat hy weer besig is om op te staan en behalwe vir ‘n paar skrape en kneusplekke, relatief ongedeerd lyk.

“Sjoe, Mamma, ek het amper gevlieg!” laat hy hoor terwyl hy sy wonde so ‘n bietjie vryf.

En in daardie oomblik weet ek dat my voorregte daagliks as vanselfprekend aanvaar word.

Posted in Uncategorized | 1 Kommentaar

Naaldewerk

Lia reken sy help my “naaldewerk” doen wanneer sy die kopspelde uit die speldekussing trek en hulle een vir een weer insteek. Daarmee het ek nie ‘n probleem nie. ‘n Goeie hand oog koordinasie oefening en dit hou haar besig. Mens moet haar net dophou dat sy nie my manier van doen (hou ekstra kopspelde in die mond) na-aap nie…

Ek neem die jaar deel aan Me-Made May. Die inisiatief kom van Zoe van http://sozowhatdoyouknow.blogspot.com/ en dis oop vir enige blogger wat wil deelneem. Gaan net na die webtuiste en sit die knoppie op jou blog. Daarby moet jy ‘n belofte neerskryf dat jy vir die maand van Mei gereeld iets tuisgemaak sal dra. Jy kan self besluit wat en presies hoe gereeld.

Klere koop is iets wat die meeste van ons graag doen. http://www.bdlive.co.za/economy/2013/09/18/south-africans-spend-more-on-clothes-than-education-survey-shows

‘n Ander “pie” diagram van Statssa wys dieselfde tendens poverty_1

As mens gaan kyk na wat klere kos, voel dit vir my of klere net te duur is. R500 vir ‘n mooi goeie kwaliteit broek, is niks snaaks nie. R500 is  ‘n derde na ‘n kwart van my weeklikse kos- en ander verbruikersitems. En ons is ‘n gesin met gemiddelde inkomste wat na aan die http://www.numbeo.com/food-prices/country_result.jsp?country=South+Africa aanbevole begroting vir kos spandeer. (Dit is so omdat ons min geprosesseerde kos koop en die meeste dinge self maak.)

Maar met R500 in ‘n klerewinkel waar die kwaliteit laer is, kan ek ‘n hele paar goed koop. Nou is my vraag: Kos die goed minder omdat dit laer kwaliteit is of kos dit minder omdat die “mark-up” daarop minder is in die winkels waar goedkoper klere gekoop kan word? Iewers moet hierdie winkels geld maak. Waar word hulle klere gemaak? Deur wie? Van wat?

Op die ou end is die koste van goedkoop klere ongelooflik hoog. Gaan lees http://www.theguardian.com/business/2006/apr/23/ethicalbusiness.globalisation1

Laat ek nou nie storietjies vertel nie. Ek maak klere, omdat ek daarvan hou. As ek nie daarvan gehou het nie, sou ek dit beslis nie gedoen het nie. Maar die koste van gekoopte klere – in eie Rand en sent en in wat dit die wêreld en die natuur kos, is vir my te duur.

Daarom is dit vir my belangrik om klere op te dollie wat ek andersins sou weggooi of my eie klere te maak. Daar gaan heelwat meer tyd en breinkrag in klere maak. Dus maak mens nie sommer iets wat jy gaan weggooi nie. Die wonderlike byvoordeel is dat dit mens se kreatiwiteit inspan.

En ‘n kreatiewe mens is ‘n gelukkige mens.

Gaan kyk gerus op my “kreatiewe blog”  http://tjoklitsenchillies.blogspot.com/ na my uitrustings vir Me-Made May.

Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar

‘n Ronde nul…

Toe Magnus my kom roep – met oë soos pierings – en ek die twee klein duifies onder die boom sien lê, is my eerste gedagte: “Ag asseblief, laat hulle tog liewer dood wees…”

Die waarheid is: Ek is nie ‘n voëlmens nie. En ek weet uit nare ondervinding dat om wilde diere te probeer grootkry in ‘n mensomgewing meer as dikwels rampspoedig eindig.

Daar was die jakkalsie wat aan sy eie pote begin kou het. Die haas wat net wou melk drink en snags donderend oor die plankvloere gehop het terwyl hy bolletjies mis oral los, die duif wat ‘n voorliefde vir kaas ontwikkel het en teen die yskas gaan opspring het wanneer hy sy lus nie meer kon hou nie (want vlieg kon hy nie) en uiteindelik smaaklik deur een van die huiskatte verslind is, die hadeda waarvoor ons moes krieke vang en wat nog steeds een oggend vrek aangetref is… So kan ek aangaan. Kortom in die stryd Nelba en familie vs Natuur is die “score” iets soos Natuur 2 miljoen, Nelba en familie 0.

Maar toe is hulle NIE dood nie. En om te keer dat die status binne 3 sekondes verander – met die kat wat belangstellend naderstaan – tel ons hulle op, sit hulle in ‘n boks en hys hulle op in ‘n boommik. Daar het ‘n duif vir ‘n tyd lank langs hulle op ‘n tak kom sit, maar later weggevlieg. Dit het begin skemer raak en kouer en ons het hulle maar ingebring. Hulle is bitter klein. Ogies nog nie oop nie. Die mylpaal word eers 4-5 dae na uitbroei bereik, aldus Google.

“Probeer ProNutro” is die raad van een van ons kinders se maats se pa, wat in sy vrye tyd roofvoëls rehabiliteer en met papegaaie broei, kort en kragtig. Met die klem op “probeer”.  Ons het nie ProNutro nie en die winkels is toe. Ons maak ‘n waterige mengsel van mieliemeel en fyngekapte sade en probeer met ‘n kateter (‘n spuit het ons ook nie). Dit werk nie. Ons laat hulle maar hulle bekkies in die mengsel indruk. Hulle kroppe kom tog vol, maar ek raai daar is meer water in as enigiets anders.

Hulle oorleef die nag teen verwagting, ons koop ProNutro en dit werk ook nie waffers nie. 24 uur later vrek die eerste een. Ek wil hom gaan weggooi. Marco sê, haai nee shamepies, kom ons begrawe hom. Maar op die ou end, kom hy hulpeloos terug en stop die dooie voël in my hande. Ag tog Mamma, gooi jy hom maar weg!

Die tweede ene leef nog. Net-net. Ek het nie ‘n goeie gevoel oor hom nie.

Natuur 2 miljoen en een. Nelba steeds 0.

Posted in Uncategorized | 2 Kommentaar

Brood

“Mamma, onthou jy jy’t gesê jy sal vanaand brood bak?”

Dis my middelste kind. Die een wat 80% van die tyd aan sy maag dink. Wat is vir hierdie ete? Wat gaan jy volgende maak? Ek is honger.

Ek onthou ek het gesê ek sal brood bak. Maar ek het verlore geraak in wat ek besig was om te doen. (Probeer uitwerk hoe om vier kussings uit die beskikbare materiaal wat ek het te sny.) Nou is dit al verby 6 en brood moet mos nog rys, ne?

Kitsbrood – skons!

Ek probeer die resep onthou. Gryp goed uit kaste en smyt in ‘n bak. Spuit die pannetjie en loer of die oond al warm is.

My jongste kom bibberend met ‘n handdoek om haar gedraai by my staan.

“Ek soek WARM nagklere!” Ons gaan soek die nagklere. Skons moet nou maar eers wag.

Die middelste ene kom kyk hoe ek vorder.

‘Ag nee, Mamma, BROOD! Nie skons nie!”

“Ja maar daar is nie nou tyd vir die goed om te rys nie. Jy’t dan gesê jy is nou dadelik honger…”

“Ja, maar Mamma, ek het al vanoggend gevra vir brood..”

Mea culpa. Mea culpa.

Die oudste kom kla sy blad is seer. So of hy dit iewers seergemaak het. Ek reken dis presies wat gebeur wanneer iemand hom 90% van die tyd verbeel hy is in Star Wars en ‘n laserswaardgedoente (‘n pyp wat geel geverf is by gebrek aan die regte kleur blou) so wild rondswaai dat niemand sy lewe seker is nie. Dit terwyl daar is ‘n stuk gestreepte lap om hom gedrapeer is wat beurtelings vir verskillende kinders dien as ‘n Jedi mantel, ‘n lang rok vir ‘n prinses of ‘n matadorlap voor ‘n bul.

Ole!

Maar nou moet ons eers bid dat die blad gesond sal word. Sy badwater loop in en ek is allergies vir vloere opdroog.

Ek rammel die gebed af en eindig af in een asem “…en gaan BAD nou voor die bad oorloop.”

“Ja, maar jy’t nie “amen” gesê nie!”

“AMEN. GAAN BAD” skree ek en sy pa gelyk.

Die oond piep. Skons is reg.

Posted in Uncategorized | 6 Kommentaar